Wat beteken dit om onder skuldberading te wees?

Wat is skuldberading? 

Skuldberading help verbruikers wat oorbelas is met skuld om hulle skuld teen bekostigbare paaiemente wat met hul krediteure onderhandel word, te betaal. Dit is ‘n gereguleerde, wetlike proses wat vir verbruikers ‘n onmiddellike (maar beskermde) kontantvloei-blaaskans gee en hulle ‘n beter kans gee om hulle skuld te vereffen sonder om hulle bates te verloor. 

Die skuldberadingsproses behels dat ‘n geregistreerde skuldberader jou huidige skuldpaaiemente met al jou krediteure heronderhandel om die druk op jou kontantvloei te verlig. Die heronderhandelde afbetalingsooreenkomste word dan ‘n bevel van die hof gemaak.  

Is skuldberading iets wat ek moet oorweeg?

Indien jy sukkel om elke maand al jou skuld betyds te betaal, of bekommerd is dat jy na jou skuldbetalings te min geld gaan oorhê vir jou noodsaaklike uitgawes, kan skuldberading dalk help.

Skuldberading is ‘n wetlike proses wat deur enigiemand gebruik kan word wat steeds ‘n vaste inkomste verdien, maar oorbelas is met skuld en nie al hul finansiële verpligtinge kan nakom nie. 

Wat moet ek weet voordat ek met skuldberading begin?

  • Dit is ‘n wetlike proses wat jou amptelik deur ‘n hofbevel onder skuldberading plaas. 
  • Terwyl jy onder skuldberading is, kan jy nie kan aansoek doen vir enige nuwe krediet nie. 
  • Skuldberading is nie ‘n manier om jou skuld af te skryf nie. Dit is ‘n manier om jou skuldpaaiemente te verminder en jou kontantvloei te verbeter. Jy betaal steeds jou skuld volledig af. 
  • Indien jy nie die afbetalingsooreenkoms nakom wat in die skuldberadingshofbevel ooreengekom is nie, mag jou krediteure regstappe neem. Jou skuldberader moet dus seker maak dat jou afbetalingsooreenkoms bekostigbaar is en jy moet seker maak dat jy dit getrou en betyds betaal. 

Wie mag vir skuldberading aansoek doen?

Enigiemand met ‘n vaste inkomste wat sukkel om hulle skuld te betaal kan aansoek doen vir skuldberading. Gee die eerste tree na ‘n skuldvrye lewe – kontak ons.

Let op!

Indien jy binne gemeenskap van goedere getroud is, is jy en jou eggenoot gesamentlik vir julle skuld verantwoordelik en moet julle saam vir skuldberading aansoek doen, ongeag onder wie se naam watter skuld aangegaan is.

Indien jy buite gemeenskap van goedere getroud is (met ‘n huwelikskontrak) is jy net vir jou eie skuld verantwoordelik en kan jy alleen vir skuldberading aansoek doen, hoewel jou eggenoot steeds saam met jou vir skuldberading aansoek mag doen. 

Wat van my huis en my kar? 

Moenie daaroor bekommerd wees nie! Jou verband- en voertuigpaaiemente kan by jou skuldberading ingesluit word. Solank jy jou verminderde huis- en voertuigpaaiemente getrou betaal (dit is baie belangrik!), mag krediteure nie hierdie bates terugneem nie. 

Jou verbandpaaiemente en rente sal vir die duur van jou skuldberading minder wees. Wanneer jou ander skuld afbetaal en jou skuldberading afgehandel is, gaan jy terug na jou oorspronklike verbandooreenkoms met jou oorspronklike verbandbetalings en rente. 

Hoe werk my terugbetalings onder skuldberading en hoeveel kos dit?

Dit is eintlik eenvoudig! Jou skuldberading gaan ‘n debietordermagtiging by jou kry vir een bekostigbare maandelikse bedrag wat van jou bankrekening afgetrek sal word. Hierdie bedrag bestaan uit al jou nuwe heronderhandelde skuldpaaiemente en die skuldberader se fooi. Hierdie fooie word deur die Nasionale Kredietreguleerder gereguleer en bepaal. Jou skuldpaaiement gaan na ‘n Paaiementverspreidingsagentskap (PDA) wat onder toesig van die Nasionale Kredietreguleerder dan al jou krediteure betaal volgens die skuldberadingsooreenkoms.

So… een betaling en die PDA sorg vir die res.

Hoe lank neem die skuldberadingsproses?

Dit neem gewoonlik drie tot vyf jaar, afhangend van hoeveel jy skuld, hoeveel jy kan bekostig om te betaal en wat deur jou skuldberader met die krediteure onderhandel kan word. 

Die goeie nuus is dat enige skuldberader wat sy/haar sout werd is, ‘n kliëntediensspan het, wat jou met elke stap in die proses kan bystaan en namens jou met jou krediteure sal kommunikeer. Jy is nie alleen nie!

Kan ek vir nuwe krediet aansoek doen (skuld maak) terwyl ek onder skuldberading is?

Nee…

Die doel van skuldberading is om ‘n plan te implementeer om jou binne ‘n vaste tyd heeltemal skuldvry te maak. Wanneer die proses voltooi is en jy skuldvry is, sal jy ‘n klaringsertifikaat ontvang, waarna jy weer vir krediettransaksies sal begin kwalifiseer. 

Om nie vir krediet te kwalifiseer nie is dalk ‘n goeie ding. As jou doel is om van krediet ontslae te raak is dit teenproduktief om nuwe skuld te maak.

Ek het die skuldberadingsproses voltooi! Hoe lank voordat ek weer vir krediet kwalifiseer?

Hier is die proses wat gevolg sal word wanneer jou skuld afbetaal is:

Wanneer jy al jou skuld afbetaal het – buiten jou verbandlening, wat op datum moet wees – sal jou skuldberader die bevestigingsbriewe van jou krediteure gebruik om ‘n klaringsertifikaat te genereer. Hierdie sertifikaat word aan al die kredietburo’s gestuur en jou status word op die Kredietreguleerder se stelsel opgedateer. Wanneer hierdie stappe voltooi is, sal jy weer in aanmerking kan kom vir krediet.

Die moets en moenies van skuldberading

Moets

Leer om te spaar!

Dit is een van die belangrikste uitkomste van skuldberading. Jy wil graag jou skuldgewoontes vervang met spaargewoontes. Kry vir jou ‘n toep wat jou besteding monitor. Dit sal help om onnodige uitgawes te identifiseer en daardie geld eerder te spaar.

Moenies

Moenie betalings mis nie! Nooit nie!

Wanneer jy betalings mis, stel jy jou suldberadingsproses onder risiko en dit kan daartoe lei dat jou skuldeisers jou skuldberadingsooreenkoms termineer. 

Wat dan? Dan word jy blootgestel aan jou skuldeisers wat regstappe teen jou kan neem. Skuldberading is jou beskerming en jy kan dit verloor. 

Moenie nuwe skuld maak nie

Die skuldberadingsproses is ontwerp met die doel om jou skuld te verminder en nie om meer skuld te maak nie. Nuwe skuldeisers sal ‘n ITC ondersoek doen wat jou kredietrekord kan vererger. Jy sal ook nie dan in staat wees om jou maandelikse paaiement te kan betaal nie. Om nou die verkeerde besluite te neem kan die hele proses om skuldvry te wees in gevaar stel. 

So…

Noudat jy meer geleer het oor die skuldberadingsproses, het jy hulp nodig? 

Onthou, as jy voel dat jy nou al ‘n probleem het – dit kan ook net vererger en dan word jy dalk forseer om aan te gaan met sekwistrasie. 

As jy hulp nodig het, kontak ons gerus! Ons streef daarna om hierdie moeilik situasie so vlot te laat verloop as wat ons kan. 

Meer om te verken