Dit is nie ongewoon dat verbruikers wat vir skuldberading aansoek doen, ‘n paar maande later koue voete kry nie. Vir sommige is die gedagte dat hulle glad nie toegang tot krediet kan kry nie, te veel. Ander se finansiële situasies verbeter wel in so mate dat hulle weer hul verpligtinge kan nakom.
‘n Onlangse hofuitspraak het onsekerheid oor hoe en wanneer ‘n verbruiker se skuldberading beëindig kan word opgeklaar.
Voordat ons die uitspraak van nader bekyk is dit belangrik om die skuldberadingsproses te verstaan:
- Wanneer jy vir skuldberading aansoek doen, sal jou skuldberader ‘n dokument uitreik (Vorm 17.1) wat krediteure verhinder om enige verdere regstappe teen jou te neem.
- Die krediteure verskaf binne vyf dae nadat hulle die Vorm 17.1-dokument ontvang het, ‘n sertifikaat wat die balans van jou skuld uiteensit. Jou skuldberader oorweeg hierdie sertifikate saam met jou begroting om te bepaal of jy jou verpligtinge kan nakom of oorbelas is met skuld.
- Indien jou skuldberader oortuig is dat jy wel oorbelas is met skuld, word ‘n volgende dokument uitgereik (Vorm 17.2). Hierdie dokument word binne tien dae in oorleg met jou krediteure opgestel en sluit ‘n terugbetalingsplan teen verlaagde rentekoerse in.
- Jy is onder skuldberading sodra jy begin met skuldbetalings in lyn met die nuwe skuldbetalingsooreenkoms. Die kredietburo’s word ook reeds hiervan in kennis gestel.
- ‘n Hofaansoek word gebring en die hof verklaar jou amptelik as oorbelas met skuld en plaas jou onder skuldberading. Die afbetalingsplan word ‘n bevel van die hof gemaak. Dit plaas jou onder die verpligting om by die afbetalingsooreenkoms te hou en beskerm jou teen regstappe deur krediteure.
DIE BEËINDIGING VAN SKULDBERADING
SCENARIO EEN – BEËINDIGING VAN SKULDBERADING VOOR DIE HOFAANSOEK
Indien jy vir skuldberading aansoek gedoen het en die skuldberader reik ‘n Vorm 17.1-dokument uit, kan jy halt roep deur die skuldberader in te lig dat jy besluit het om nie voort te gaan met skuldberading nie. Indien jy egter reeds agterstallig is met enige van jou kredietbetalings, is daar niks wat jou dan teen regstappe beskerm nie.
Sodra ‘n Vorm 17.2 uitgereik is, is jy onder skuldberading, hoewel die hof steeds amptelik moet bevind dat jy oorbelas is met skuld. Indien jou finansiële posisie in die tydperk tot die hofsaak voorkom in so mate verbeter het dat jy nie met skuldberading wil voortgaan nie, moet jy dit in die hof bewys wanneer die saak voorkom en ook aantoon dat jy geen agterstallige kredietbetalings het nie. Die hof kan dan jou skuldberading beëindig. Indien die hof egter meen dat jy nie in staat gaan wees om jou verpligtinge na te kom nie, kan hulle jou steeds onder skuldberading plaas, ongeag of jy gewillig is om die proses te volg.
SCENARIO TWEE – BEËINDIGING VAN SKULDBERADING NÁ DIE HOFAANSOEK
‘n Onlangse hofuitspraak het bevind dat geen hof ‘n skuldberadingshofbevel ter syde kan stel voordat die vereistes van die hofbevel nagekom is nie. Die vereistes is dat al jou skuld, behalwe vir jou huisverband, afbetaal moet wees. Selfs indien jou finansiële situasie dus sodanig verbeter dat jy jou oorspronklike skuldbetalings sal kan dek, sal jy nie jou skuldberading kan laat eindig voordat jou skuld nie volledig afbetaal is nie.
Die oplossing vir ‘n verbruiker in so situasie is om die skuld vinniger af te betaal deur groter maandelikse betalings te maak. Die voordeel is dat jy in die proses nog meer op op die rente op jou skuld sal spaar.
Algemene vrae en wanpersepsies oor Skuldberading
Die skuldberader het my gekul. ek was nie bewus van al die implikasies nie en het eers later agter gekom ek is nou onder skuldberading.
Dit bly jou verantwoordelikheid om mooi te lees waartoe jy instem wanneer jy enigiets onderteken. Dit is ongelukkig ‘n algemene taktiek van roekelose skuldberaders om terme soos “skuldkkonsolidasie” in plaas van skuldberading te gebruik, wat groot verwarring by verbruikers veroorsaak.
- Jy het die reg om die proses te staak indien die skuldberader nog net Vorm 17.1 uitgereik het. Indien jy voel dat jy onder vals voorwendsels oorreed is om ‘n Vorm 17.1 te voltooi, kan jy ‘n klag by die nasionale kredietreguleerder lê.
- Indien die proses al verder gevorder het en ‘n Vorm 17.2 is reeds uitgereik, kan jy jou saak in die hof stel wanneer die skuldberadingsaansoek oorweeg word. Die hof sal dan beslis of jy wel oorbelas is met skuld of nie.
“Verbruikers wat nie ingestem het tot skuldberading nie, kan ‘n klag by die Nasionale Kredietreguleerder lê. Die saak sal ondersoek word en indien die uitslag toon dat die verbruiker nie ingestem het nie, sal die skuldberader opdrag gegee word om die verbruiker van skuldberading te verwyder en stappe sal teen so ‘n skuldberader geneem word,” luidens Nthupang Magolego, senior regsadviseur by die Nasionale Kredietreguleerder.
EK HET BEGIN MET SKULDBERADING, MAAR HET INTUSSEN ALTERNATIEWE AFBETALINGSREËLINGS MET MY KREDITEURE GETREF, WANT MY FINANSIËLE SITUASIE HET VERBETER
Kredietverskaffers hou nie daarvan as verbruikers onder skuldberading geplaas word nie, omdat hulle dikwels toegewings op die verbruiker se rentekoerse op skuld moet maak. Daarom is dit algemeen dat krediteure verbruikers wat skuldberading oorweeg, kontak om alternatiewe reëlings te probeer tref.
- Indien ‘n Vorm 17.2 nog nie uitgereik is nie en jy kon alternatiewe reëlings met jou krediteure ooreenkom, kan jy die skuldberader vra om die proses te kanselleer. Maak egter eers seker dat daar geen agterstallige kredietbetalings is nie, want sodra die aansoek gekanselleer is, kan die krediteure regstappe teen jou begin neem. Indien ‘n Vorm 17.2 reeds uitgereik is, kan jy die nuwe ooreenkomste wat met die krediteure aangegaan is voorhou in die hof sodat die hof kan besluit of die skuldberading moet voortgaan of nie.
- Indien jou finansiële situasie verbeter, is dit goed om dit met jou skuldberader te deel en in die hof te stel. Hou net in gedagte dat jy na die uitreiking van Vorm 17.2 onder skuldberading bly tot die hofdatum en dat enige rentetoegewings onder Vorm 17.2 wegval indien die skuldberading eindig. Enige agterstallige kredietbetalings kan ook tot hofstappe lei.
EK IS NOU ‘N PAAR JAAR ONDER SKULDBERADING EN IS NOU IN ‘N POSISIE OM MY OORSPRONKLIKE BETALINGS TE KAN DEK
Sodra ‘n hofbevel gemaak is, het jy nie ‘n ander keuse om al die skuld ingevolge die hofbevel af te betaal nie. Gebruik die geleentheid om jou skuld vinniger, teen die laer rentekoerse af te betaal. Jou skuldberader kan jou help om jou skuldooreenkoms te laat hersien om dit moontlik te maak.
HOE WEET EK DAT DIE HOFBEVEL VIR SKULDBERADING TOEGESTAAN IS?
Die hofaansoek vir skuldberading moet binne 60 dae by die hof ingedien word. Die hofdatum hang egter van die hofrol af en die aansoek kan tot ses maande later eers in die hof aangehoor word.
Die verbruiker wat vir skuldberading aansoek doen, sal gevra word om ‘n bevestigende eedsverklaring af te lê. Indien die verbruiker versuim om die eedsverklaring te onderteken en die aansoek nie binne 60 dae by die hof geliasseer kon word nie, kan die krediteure die ooreenkoms eindig en met regstappe teen die verbruiker begin.
Jou skuldberader moet jou inlig oor jou hofaansoek, die hofdatum en die uitslag. Hou kontak met jou skuldberader sodat jy op hoogte kan bly van jou saak se vordering. Jou skuldberader moet ook vir jou ‘n afskrif van die hofbevel gee.
Wanneer jy al jou skuld afbetaal het, moet jou skuldberader ‘n klaringsertifikaat uitreik. Indien die skuldberader versuim om ‘n klaringsertifikaat uit te reik, kan jy by die Nasionale Verbruikerstribunaal appél aanteken. Indien die tribunaal vind dat die verbruiker geregtig is op ‘n klaringsertifikaat, sal hulle die skuldberader opdrag gee om die sertifikaat uit te reik. Die skuldberader moet binne sewe dae ‘n afskrif van die klaringsertifikaat ingevolge die Nasionale Kredietwet by al die kredietburo’s indien.
Vind meer uit hoe wat dit beteken om onder skuldberading te wees hier.
Volg ons gerus op Facebook en bly ingeskakel by die nuutste nuus en verwikkelinge.