‘n Goeie krediettelling hang meestal van jou skuldbetaalstatus af en word jou kredietverslag aangedui.
As jy met ‘n “goeie” of selfs “uitstekende” krediettelling wil spog, moet jynegatiewe skuldstatusse in jou verslag dringenduitstryk. Wanneer jy jou kredietverslag hersien, kyk uit vir die volgende rooi vlae:
- Laat betalings op rekeninge
- Wanbetalings
- Vonnisse
- Kennisgewings
Hierdie rooi vlae het die grootste negatiewe impak op jou krediettelling en kredietwaardigheid. Lees verder om uit te vind wat elkeen van die rooi vlae behels, hoe om dit te vermy en reg te stel.
Laat betalings
Wat is ‘n laat betaling?
Die betalingsprofielafdeling in jou kredietverslag bevat al die kredietrekeninge wat by die kredietburo gelys is, met ‘n betaalgeskiedenis van 24 maande vir elke rekening. Indien jy een of meer betalings op enige van jou rekeninge mis of laat betaal, sal ‘n laat betaling op die rekening verskyn. Die laat betalingstatus wys ook hoe laat die betaling was en kan van 30 dae tot 60, 90, 120 en selfs 150+ dae aangedui word.
Tensy dit administratief of feitelik verkeerd is, kan daar nie veel gedoen word om ‘n laat betalingstatus te verwyder of te betwis nie.
Hoe om laat betalingstatusse te vermy
Voorkoming is beter as ‘n kuur. Indien jy nie jou skuldverpligtinge kan nakom nie, of per abuis ‘n betaling mis, moet jy jou krediteure kontak en dadelik ‘n betaalreëling met hulle tref. Dit is die enigste manier om ‘n laat betalingstatus te vermy.
Wanbetalings
Herhaaldelike laat betalings wat die krediteur noop om stappe teen jou te neem om agterstallige betalings in te vorder, word as wanbetalings (nie-betalings) beskou en as sulks op jou kredietverslag gelys. Wanneer ‘n krediteur begin stappe neem, hang van jou kredietooreenkoms af.
Ingevolge die Nasionale Kredietwet moet ‘n kredietverskaffer jou 20 dae skriftelike kennis gee oor hul voorneme om wanbetalings by die kredietburo’s aan te meld.
Indien jy nie so ‘n kennisgewing ontvang het nie, kan jy ‘n geskil by die kredietburo aanteken. Die kredietburo word dan verplig om dit te ondersoek en die wanbetalingstatus te verwyder indien dit onregmatig aangeteken is.
‘n Wanbetaling bly ‘n jaar lank, of tot die skuld afgelos is, op jou kredietrekord. Daarbenewens, kan daar tot twee jaar lank ‘n nota oor wanbetalings in die verlede op jou kredietrekord sigbaar bly.
Dit is dus raadsaam om eerder oop kaarte te speel en jou krediteure te kontak om alternatiewe afbetalingsplanne te implementeer.
Regskennisgewings

Kennisgewings sluit administratiewe bevele, voorlopige en finale sekwestrasies en rehabilitasiebevele in. Sodra jy aan een van hierdie prosesse onderwerp word,moet jy formeel gerehabiliteer word, voordat jy weer vir krediet oorweeg sal kan word. Notas oor regskennisgewings bly gewoonlik vir vyfjaar op jou kredietverslag.
Vermy regskennisgewings. Kommunikeer pro-aktief en sluit nuwe afbetalingsooreenkomste.
Vonnisse
Wat is ‘n vonnis?
Indien jy aanhou laat betaal, wanbetaal, nie met krediteure alternatiewe reëlings tref nie en regskennisgewings ignoreer, gaan jou krediteure formele regstappe neem om ‘n dagvaardiging en ‘n vonnis teen jou te kry. Sodra daar ‘n vonnis op jou kredietrekord aangeteken word, word alle toegang tot nuwe krediet heeltemal geweier. Vonnisse bly vyf jaar op jou kredietverslag of totdat die skuld ten volle afgelos is.
Let daarop dat ‘n vonnis ook in jou afwesigheid opgelê kan word. Dit staan as ‘n standaarduitspraak bekend en is afdwingbaar of jy dit kan bekostig of nie. Dit is daarom belangrik om nooit jou kredietverskaffers te vermy nie, maar eerder proaktiewe stappe te neem om alternatiewe reëlings te tref.
Skuldberading
Skuldberading is ‘n regsproses ingevolge die Nasionale Kredietwet . Dit stel verbruikers met te veel skuld in staat om hul bates te beskerm en regstappe deur kredietverskaffers te vermy terwyl hulle ‘n nuwe, beskostigbare afbetalingsooreenkoms nakom. Die proses word deur ‘n skuldberader gefasiliteer en die afbetalingsplan word dan in ‘n hofbevel bekragtig.
Skuldberading is ‘n goeie opsie indien skuld jou onder kry, maar daar is ook gevolge vir so besluit. Daar is regskoste en skuldberaderfooie ter sprake en dit verhoed jou om enige nuwe krediet te bekom totdat die skuld afgelos is. Maak altyd seker dat jy met ‘n geregistreerde skuldberader gesels, anders is jy dalk nie veilig van regstappe nie.
Gevolgtrekking
Voorkoming is beter as kuur. Om in ‘n skuldpenarie te wees is moeilik, maar pak die bul by die horings en kontak jou krediteure voordat hulle jou kontak. Kry ‘n nuwe afbetalingsooreenkoms in plek en hou daarby. As jy nie kan nie, kontak ‘n skuldberader en kry hulp.