You are currently viewing Artikel 129 van die kredietwet: Wat jy kan verwag wanneer jy wanbetaal op skuld

Artikel 129 van die kredietwet: Wat jy kan verwag wanneer jy wanbetaal op skuld

Ons leef op vele vlakke  in uitdagende tye. Die finansiële impak van Covid 19 het baie huishoudings hard getref en selfs dié wat voorheen hul krediet kon bekostig kry vandag swaar. Talle moes hulle na bykomende korttermynkrediet wend om die basiese te bekostig en sukkel nou om hul skuldbetalings by te bring. Jy het dalk onlangs ‘n artikel 129-skuldeisbrief ontvang weens jou versuim om jou skuldbetalings na te kom.

Wat nou?

Indien jou skuld onbekostigbaar geraak het en jy sukkel om die paaiemente te betaal, is jy nie alleen nie. Ons is hier om te verduidelik wat die verwagte gevolge van wanbetaling kan wees en ‘n paar oplossings voor te stel wat ingevolge die Nasionale Kredietwet vir oorbelaaide verbruikers beskikbaar is. 

Suid-Afrika se skuldprobleem (voor inperking!)

Volgens die Nasionale Kredietreguleerder se 2020-verslag is R126.35 miljard se nuwe krediet tussen Januarie en Maart 2020 aan verbruikers toegestaan. Dit is vóór die dae van Covid-inperkings. Nagenoeg 27.99 miljoen verbruikers het aktiewe kredietrekeninge gehad, waarvan 10.47 miljoen verbruikers reeds wanbetalings op hul kredietrekord getoon het.

Die 2021-verslag is nog nie gepubliseer nie, maar daar is konsensus dat verbruikerskuld toegeneem en hul vermoë om te betaal afgeneem het.

Die rol van ‘n Artikel 129 skuldeisbrief

‘n Artikel 129-kennisgewing word aan verbruikers gestuur wat nie aan hul kredietooreenkomste kan voldoen nie, agterstallige skuldbetalings het en nie ‘n afbetalingsreëling met kredietverskaffers getref het nie. Die doel van die kennisgewing is om die verbruiker ‘n kans te gun om hulp te kry, die uitstaande skuld te vereffen en enige geskille met die kredietverskaffer op te los.

‘n Artikel 129-kennisgewing is die eerste stap in ‘n regsproses deur die kredietverskaffer teen die verbruiker. Indien die verbruiker nie op die kennisgewing reageer nie kan en sal die volgende gebeur:

  • Wanneer die verbruiker ‘n Artikel 126-kennisgewing ontvang, het hy tien dae om daarop te reageer. Die verbruiker moet skriftelik te kenne gee dat hy beoog om vir skuldverligting aansoek te doen, die skuld gaan vereffen of ‘n geskil verklaar oor die inhoud van die kennisgewing.
  • Indien die verbruiker nie reageer nie, kan die kredietverskaffer hul regspan instruksie gee om ‘n dagvaardiging teen die verbruiker uit te reik.
  • Die regspan sal die dagvaardiging op die verbruiker laat beteken en die verbruiker sal verantwoordelik wees vir die regskoste.
  • Die balju sal die dagvaardiging by die verbruiker se adres aflewer.
  • Indien die balju nie die dagvaardiging by die verbruiker se adres kan aflewer nie, sal dit by die verbruiker se werplek afgelewer word.
  • Indien die verbruiker versuim om die kredietverskaffer se regspan in te lig dat hy ‘n beswaar in die hof wil argumenteer, sal die kredietverskaffer se regspan die hof vra om in die verbruiker se afwesigheid uitspraak te lewer. 
  • Nadat uitspraak gelewer is, kan die kredietverskaffer die bevel van die hof uitvoer, wat onder meer die beslaglegging en verkoop van die verbruiker se bates kan insluit, of ‘n bevel wat die verbruiker se werkplek verplig om aftrekkings teen die verbruiker se salaris te maak en aan die kredietverskaffer te betaal tot die skuld en rente ten volle vereffen is. 
  • So ‘n uitspraak en hofbevel sal permanente skade aan die verbruiker se kredietrekord doen en hom verhoed om weer vir krediet aansoek te doen. Die hofbevel bly vir dertig jaar geldig.

Om op te som: Die Nasionale Kredietwet sê:

“Indien ‘n verbruiker nie ‘n kredietooreenkoms kan nakom nie en wanbetaal, mag die kredietverskaffer die kredietooreenkoms na ‘n skuldberader, ‘n alternatiewe skuldbeslegter of die verbruikershof of relevante ombudsman verwys om enige betaalgeskil op te los en ooreen te kom hoe die uitstaande skuld vereffen gaan word.”

Is daar goeie nuus?

Indien jy ‘n Artikel 129-kennisgewing ontvang, is dit nog nie te laat nie. Kontak DebtGrip vandag sodat ons verdere regstappe kan voorkom en skuldverligtingsopsies met jou kan bespreek.

Maak 'n opvolg-bydrae